DIE SOEKE NA DIE betekenis VAN LEWE

Eienaardige dinge is besig om vandag te gebeur. Vanuit alle oorde is mense skielik baie ontevrede oor die toestand waarin die wereld tans verkeer. Ek het aanvanklik gedink dit is maar net 'n klein groepie mense wat gewoonlik oor alles kla, maar hierdie klagtes word nou so oorweldigend dat ons dit nie meer kan ignoreer nie. Die slim mense se hierdie huidige tendens het 'n besondere betekenis. Hulle se dat dit deur al die eeue bewys is dat wanneer mense 'n nuwe insig kry, dit soos 'n veldbrand versprei en niemand dit kan keer nie. So het alle revolusies in die verlede begin, en hulle is van mening dat ons oan die vooraand staan van'n wereldrevolusie waarin die mensdom gaan verander soos nog nooit tevore nie. Ek het 'n punt daarvan gemaak om uit te vind wat aan die gang is, en begin luister waaroor mense so ontevrede is.

Ontevredenheid met die toestand van die wereld

Al meer mense is vandag ontevrede en selfs opstandig oor dinge wat toenemend in die wereld plaasvind, soos byvoorbeeld die toename in geweld, verdowingsmiddele, hongersnood en ongeneeslike siektes soos kanker en vigs. In ons eie land is mense baie ongelukkig oor die toename in diefstal, aanrandings, verkragting en moord, en heers daar 'n groot onsekerheid oor die toekoms.
Mense is veral ontevrede met die vlak wat besoedeling en die vernietiging van die natuur tans bereik het. Die ekologiese krisis waarin ons tans verkeer met lugbesoedeling, die groter wordende gat in die oosoonlaag en die effek van cheniese afval ontstel al meer mense. Daar word vrae gevra oor die toenemende oorbevolking en al meer mense is onseker oor hoe hierdie dinge ons in die toekoms gaan raak. Oral v ra mense vandag die vraag: "Wat is besig om met die menslike ras op aarde te gebeur? "

Mense is ongelukkig oor ons hedendaagse leefwyse

'n Verdere tendens wat ek waarneem, is dat mense nie uitgepraat kan raak oor hulle diepe ongelukkigheid met ons hedendaagse leefwyse nie. Hulle voel dat elke dag net 'n gejaag is om aan al die eise van die samelewing te voldoen. Daar moet voortdurend gewedywer word om aan al die verwagtings te voldoen wat aan hulle gestel word, hulle moet voortdurend presteer en met ander kompeteer om meer geld te maak om 'n voorgeskrewe lewenstyl te handhaaf, en hulle kry hul goedkeuring of afkeuring slegs ingevolge die materiele dinge wat hulle besit. Hulle kry net aanvaarding vir hulle uiterlike voorkoms en hoe hulle aantrek, sonder inagneming van wie hulle werklik as mense is. Wat die doel van so 'n leefwyse is, verstaan hulle nie. Hierdie leefwyse verwar hulle net en dit skep 'n onhanteerbare spanning by elkeen. Die hoe vlakke van stres wat daardeur beleef word, veroorsaak dat selfs die materiele suksesse wat hulle bereik, geen betekenis meer vir hulle inhou nie. Dit is duidelik dat menige nie meer die motivering het om die stygende lewenstandaard te bly handhaaf nie. Hulle wil nie meer hierdie lewe lei, soos dit deur ander vir hulle voorgeskryf word nie.
Baie mense raak desperaat en stort in duie, ander wil nie meer voortbestaan nie en word voortdurend met gedagtes geteister om hul lewe te beeindig. Dit alles laat hulle voel dat dit nie meer die moeite werd is om so te lewe nie. Hulle wil nie meer met hierdie gejaagde leefwyse voortgaan om net al hoe meer materiele besittings te kry nie. Hulle voel daar kan 'n beter leefwyse wees.
Dit is vir my duidelik dat hulle vasgevang sit in die leefwyse van die Westerse wereld wat aan hulle opgedwing word en dat hulle glad nie gelukkig is daarmee nie.
Wat vir my opsigtelik is, is dat al meer mense ook op soek is na 'n eie identiteit. Hulle wil nie meer net nog een van die massas wees en in die mensestroom verkeer om te leef soos almal leef nie; hulle wil hul eie uniekheid vind en dit uitleef en voel dat hulle 'n besondere betekenis op aarde vervul. Geen wonder dat sommige, veral jongmense, tans wegbreek en 'n eie lewenskultuur, tot ontsteltenis van hul ouers, vir hulself probeer skep nie. Dit is myns insiens ook die rede hoekom al meer mense in die ou antieke dinge begin belangstel: hulle assosieer met die unieke identiteit van elke produk en wil nie meer dinge besit wat elke Jan Rap en sy maat ook het en wat alles dieselfde lyk nie.

Die soeke na 'n nuwe suksesformule

Waar ek my in die laaste jare daarop toegele het om motiveringskursusse aan te bied (omdat ek veral in die normale gedrag van mense belangstel), het ek ook 'n diepe besef gekry dat al meer mense nie meer tevrede is met die sogenaamde suksesformule wat vir hulle voorgehou word nie, naamlik dat sukses daarin bestaan om baie geld te he om al die materiele produkte van ons moderne lewe te koop, en om die beste presteerder te wees en die regte mense te ken en die topposisie te beklee nie. Hierdie suksesformule waarna sommige as die "American dream" verwys, het vir baie mense net 'n nagmerrie geword. Daarom het hulle nie meer die motivering om dit na te strewe nie. Baie mense sien sukses nie meer as 'n lewe met 'n oorvloed van uiterlike materiele besittings nie, en soek na 'n ander suksesformule.

Nuwe siektesimptome

'n Ander aspek wat my interesseer, is die toestroming van mense na my en ander sielkundiges toe, met 'n nuwe sielkundige siektetoestand wat nie in vroeere jare voorgekom het nie. Wat eienaardig daarvan is, is dat dit nie 'n werklike sielkundige afwyking is nie, en tog ervaar hulle die innerlike pyn en lyding wat met 'n siektetoestand gepaardgaan. Die algemene klagtes wat ek gereeld na luister, is: 'n gevoel van frustrasie en ongelukkigheid, 'n gevoel van leegheid en doelloosheid, 'n gevoel van waardeloosheid en 'n behoefte aan persoonlike vervulling. Hiermee saam ervaar hulle spanning, stres en depressiegevoelens. Hierdie simptome word tans 'n alledaagse verskynsel. My vraag is: "Wat veroorsaak dit?"

'n Behoefte aan vrede en geluk

Wat my tref, is dat ons in 'n vooruitstrewende Westerse wereld leef, waarin ons al die wonderlike dinge besit wat die moderne tegnologie ons bied, en waaroor miljoene ander net kan droom, maar dat ons leefwyse mense nie gelukkig maak nie. Hoekom soek mense na 'n ander leefwyse en spreek hulle gereeld die wens uit dat hulle liewer op 'n eiland weg van alles kan gaan bly?
Wanneer jy vir mense vra waarna hulle eintlik soek, is die antwoord altyd dieselfde: "Ons wil net innerlike vrede en geluk ervaar." As jy hulle vra wat 'n mens moet doen om ware geluk en vrede te kry, het hulle nie 'n antwoord nie. Waarna soek hulle eintlik? Wat in die lewe gee geluk en vrede? Ek het baie hieroor nagedink en my oopgestel daarvoor om die regte antwoord te kry.

Viktor Frankl se bevindinge

Ek het ernstig na antwoorde begin soek hoe 'n ander leefwyse lyk wat vrede en geluk kan waarborg. Ek was op soek na 'n ander suksesformule om vir mense te gee. My antwoord het ek by die bekende sielkundige Viktor Frankl gevind, wat vir ons so 'n suksesformule gegee het. Hierdie formule het hy nie self uitgedink nie, hy het net die waarheid van 'n formule ontdek wat eie is aan die menslike natuur, wat deur al die eeue van die menslike bestaan op aarde gegeld het, maar wat ons tans ignoreer.
In die Nazi-konsentrasiekamp by Auschwitz, tydens die laaste wereldoorlog, het hy dit self ervaar en ook by menige van sy medegevangenes waargeneem, dat dit moontlik is om hierdie suksesformule vir geluk en vrede toe te pas, selfs te midde van die grootste lewenskrisis wat jou kan tref. Jy kan jou indink wat hy en sy makkers in daardie oorlogsituasie deurgemaak het. Hulle het 'n geringe kans gehad om te oorleef omdat hul lewe as nietig beskou was en hulle erger as diere behandel was. Almal was gestroop van hul aardse besittings, ook van hul klere en selfs hul hare, dus ook van hul persoonlike trots. Diegene wat liggaamlik sterk genoeg was, is gebruik om soos slawe te werk. Die ander is na die gaskamers gelei om te sterf, waama hulle veras is.
Onder hierdie haglike omstandighede het Frankl as sielkundige 'n waarneming van menslike gedrag gemaak wat hom geweldig beindruk het: toe mense gestroop was van hul aardse besittings en hul persoonlike trots, het hulle hul innerlike sielsbehoeftes ontdek. Op die tydstip toe hulle hul lewe enige oomblik kon verloor, het die lewe self vir hulle skielik 'n besondere betekenis gekry en het hulle dinge in die lewe ontdek wat hul sielsbehoeftes bevredig het, soos nog nooit tevore nie. Dit is hartroerend om te hoor hoe hierdie mense, ten spyte van hul krisis, in staat was om elke dag die kwaliteite van lewe te geniet; hoe 'n sonsondergang hulle geinspireer het; hoe die hemelruim vol sterre hulle denke gevul het sodat hulle hul pyn vergeet het; hoe hulle in hul gedagtes vir ure vorige mooi herinneringe kon herleef, ( en by 'n geliefde kon wees); hoe 'n enkele uitgeskeurde bladsy van die Bybel hulle smart kon verlig; hoe hulle die rantsoen voedsel wat ontvang is, kon geniet; hoe hulle iets goeds in 'n ander persoon kon raaksien; hoe hulle 'n bondgenootskap met insekte en selfs rotte kon aanknoop! Nog baie ander dinge in die lewe het hulle begin raak sien en waardeer wat hulle vroeer nooit opgemerk het nie, kleiner dinge wat hulle voorheen geminag het, maar wat skielik hulle innerlike sielsbehoeftes in oorvloed vervul het.
Wat hieruit voortgespruit het, was dat hulle spontaan begin het om vir ander mense met liefde iets te gee. Daar word byvoorbeeld vertel hoe hulle 'n ondersteunende hand van liefde vir iemand gegee het wat in uitputting gestruikel het, ongeag van wie hy of sy was; of hoe iemand in pyn met 'n glimlag geinspireer was; of 'n deel van die rantsoen voedsel vir 'n ander wat swakker as hulle is, gegee is; of begrip gegee is deur saam met iemand te huil. Hierdie mense het hulle nie net op ander mense gerig nie, bo alles was hulle in kontak met God soos nooit tevore nie. In dit alles het hulle 'n diepe ervaring van geluk en vrede ervaar, selfs diegene wat in die gaskamers moes sterf.
Dit was hierdie ervaring dat daar onsigbare dinge met kwaliteit in die lewe is wat hulle sielsbehoeftes bevredig het, wat hulle laat besef het dat hul eie lewe ook iets besonders beteken. Toe hulle die ware betekenis van die lewe ervaar het, het hulle die ontdekking gemaak dat hulle 'n innerlike sielsbehoefte het om self 'n spesifieke rol in die wereld te vervul. Hulle het tot die besef gekom dat hulle met 'n doel hier op aarde is, en dat hulle die bedoeling van hul lewe wil realiseer.
So het hulle dit net skielik ingesien dat die bedoeling van hulle lewe daarin bestaan het om die unieke take te verrig wat net hulle op aarde kon doen. Met hierdie insig het hulle die intense begeerte ondervind om nog net eers hierdie take af te handel. Daarom het hulle aangehou om te lewe, en het hulle die bomenslike folteringe oorkom. Die een het byvoorbeeld bly lewe ter wille van sy taak om 'n geliefde se lewe te verryk, 'n ander wou bly lewe om nog eers sy kinders te versorg,'n ander ter wille van sy beroepstaak wat hy wou afhandel, 'n ander ter wille van 'n talent wat hy nog wou uitleef. Frankl self het naas sy folteringe ook 'n tifusepidenie oorleef om sy taak op aarde te vervul, naamlik om sy waarneming van die gedrag van die mense in Auschwitz in 'n boek te publiseer, sodat die wereld dit kon lees. Hiervoor het hy aantekeninge op stukkies papier gemaak en in sy klere versteek; dit het hom aan die lewe gehou. Hierdie mense het net besef dat hulle lewe 'n betekenis het en dat hulle dit tot elke prys wou verwesenlik.
Frankl se ervaring het gelei tot die bekende spreuk onderaan hierdie dagstuk, wat hom beroemd gemaak het en wat ook die kern van hierdie kursus van my gaan wees, naamlik dat daar niks anders is wat 'n mens meer geluk en vrede gee en hom meer kan inspireer om te lewe nie, as die wete dat sy lewe daarvoor bedoel is om unieke take hier op aarde te verrig nie.
Hiermee gee Frankl vir ons die antwoord op die vraag hoe ons geluk en vrede kan kry. Dit word verkry wanneer die mens sy sielsbehoeftes bevredig, veral die behoefte om sy unieke betekenis te vervul. Dan oorbrug hy ook enige krisis waarin hy verkeer.
Dit is belangrik om daarop te let dat die mens sy onsigbare sielsbehoeftes vind wanneer hy van sy sigbare fisiese aardse besittings gestroop word en nie meer in staat is om net op sy liggaamlike behoeftes te konsentreer nie.

Ons leef vandag in 'n "eksistensiele vakuum"

Ek was tevrede met hierdie antwoord van Frankl, maar ek moes egter nog my vraag beantwoord hoekom mense vandag so ongelukkig met die lewe is en hoekom hulle na 'n formule soek wat vir hulle geluk en vrede kan gee. Hoekom beleef hulle nie die geluk en vrede van Frankl en sy vriende nie? Hulle leef tog in baie beter omstandighede. Wat is dit wat hulle siektesimptome veroorsaak? Frankl het vir my die antwoord gegee in 'n ander bevinding wat hy gemaak het.
Jare na sy ervaringe in Auschwilz, doen hy weer navorsing oor hoe mense hul lewe buite 'n oorlogsituasie ervaar. Hierdie keer doen hy sy navorsing in vredestyd, binne die hoogtepunte van die tegnologiese ontwikkeling en die sogenaamde vooruitgang van die florerende Westerse wereld. Hy kom tot insigte wat net so 'n groot bydrae vir die sielkunde gemaak het soos sy ervaringe in Auschwilz. Sy bevinding is dat die meerderheid van hedendaagse mense net vir materiele welvaart en die bevrediging van fisiese behoeftes lewe, en dit nie ervaar dat die lewe 'n betekenis het nie. Hulle beskou die lewe as sinneloos en doelloos en voel dat hulle net soos die diere lewe, om na 'n tyd te sterwe en dan is alles verby. Daarom ervaar hulle dit ook nie dat hul eie lewe enige bedoeling op aarde het nie en het hulle dus nie unieke take waarvoor hulle wil bly lewe om dit te vervul nie. Frankl se hulle leef in 'n "eksistensiele vakuum". Hulle eksistensie, dit wil se hulle bestaan op aarde is leeg; dit is net 'n sinnelose voortbestaan. Hulle het 'n leuse wat 'n apostel eens soos volg opgesom het: "Laat ons eet en drink, want more sterwe ons."

Wat het met ons gebeur?

Wat is die rede dat mense vandag geen betekenis in die lewe vind nie? Hoe kan die mens in 'n oorlogkrisis dit ervaar dat die lewe 'n betekenis het en innerlike geluk en vrede beleef, maar die mens in vredestyd binne ekononiese welvaart en tegnologiese vooruitgang, waar hy alles besit wat sy hart begeer, ervaar dit nie?
Viktor Frankl spel die antwoord duidelik uit; jy kan nie geluk en vrede in die eensydige bevrediging van jou fisiese behoeftes vind, wat net die uiterlike sigbare materiele dinge aangewese is nie; jy vind dit in die bevrediging van jou innerlike, onsigbare sielsbehoeftes. Hy wys daarop dat die mens nie net oor 'n uiterlik sigbare fisiese liggaam beskik nie, maar dat hy ook oor 'n onsigbare innerlike spirituele dimensie beskik. Hy is dus nie net 'n fisiese wese nie, hy is ook'n spirituele wese. Daarom wil hy nie net die dinge najaag wat sy fisiese behoeftes bevredig nie, hy wil ook dinge najaag wat sy spirituele behoeftes bevredig.
Sy suksesformule is: Ware geluk en vrede le in die najaag van dinge wat jou spirituele behoeftes bevredig. Dit is die suksesformule wat ek in hierdie kursus gaan propageer. Miskien is dit vir jou 'n vreemde formule vir sukses, maar jy kan dit gerus toepas om self te ervaar dat dit beter werk as enige ander formule wat jy tot dusver probeer het.
Menige navorsers bevestig Frankl se standpunt. Hulle wys ons egter daarop dat die mensdom vandag, in die proses van menslike ontwikkeling by 'n punt uitgekom het waar daar oormatigend net gekonsentreer word op die uiterlik sigbare fisiese aspekte van die tegnologiese vooruitgang. In hierdie ontwikkelingsproses word die mens vasgevang, dit versmoor hom sodanig dat hy die spirituele dimensie van sy lewe ignoreer. Daarom kan hy nie meer die spirituele kwaliteite van lewe raak sien wat sy innerlike sielsbehoeftes bevredig nie. In sy kwaai wedywering met ander om alles te besit en die beste te wees, weet hy byvoorbeeld nie meer wat liefde is en hoe hy dit vir ander kan gee nie. In sy gejaag agter rykdom aan beleef hy soveel stres dat by nie meer weet wat rustigheid en stilte beteken nie. Hy het die slaaf geword van die materiele dinge, van die uiterlike dinge in vorm wat hy kan sien, en hierdie dinge is al wat vir hom iets beteken. Hy ignoreer sy spirituele behoeftes en kan nie raak sien dat die lewe self 'n betekenis het en dat sy eie lewe 'n unieke bedoeling het nie. Daarom ontdek hy ook nie sy take en missies waarvoor hy eintlik op aarde is nie. Dit is hoekom by nie geluk en vrede het nie.
Uit verskillende kringe word dit nou bevestig en word die klem daarop geplaas dat die tegnologiese vooruitgang ten grondslag le van die moderne mens se sielkundige siektesimptome. Sy simptome van stres, spanning, frustrasie, depressie en 'n gevoel van persoonlike leegheid is die resultaat van sy gejaagde lewe om alles te probeer besit wat die tegnologie hom bied, en al besit by al die fisiese dinge wat sy hart begeer, kan dit hom nie 'n gevoel gee dat sy lewe iets besonders beteken nie.

'n Onbekende diagnose

Frankl wys ons daarop dat die gevoel van betekenisloosheid in die "eksistensiele vakuum" 'n frustrasie by die Westerse mens skep. Hy is gefrustreerd omdat hy in sy basiese samestelling as mens die ervaring wil he dat sy lewe iets besonders beteken, maar hy belewe dit nie. Dit is hierdie frustrasie wat tot spanning, stres, moegheid en depressies lei. Dit kom so algemeen voor dat hy dit die "kollektiewe neurose" van ons tyd noem. Dit is hoekom hierdie simptome so toeneem. Dit is dan ook wat die siektetoestand van my kliente veroorsaak. Enige simptoom is maar altyd net sigbare tekens van 'n verborge probleem of 'n onderliggende siekte. Hierdie simptome is maar net bewuste gevoelens van 'n onbewuste behoefte om 'n betekenis te vervul, wat nie bevredig word nie.
Frankl maak 'n diagnose van hierdie siekte van ons tyd. Dit is 'n diagnose wat nie in die erkende lys van diagnoses aangedui word nie. Die diagnose is: die moderne mens bevredig nie meer sy spirituele behoeftes nie.

'n Ontwaking is besig om plaas te vind

Kan jy nou verstaan hoekom so baie mense vandag nie meer tevrede is met ons huidige leefwyse nie en hoekom hulle na 'n ander leefwyse soek? Hulle is skielik nie meer beindruk met die tegnologiese vooruitgang waarmee ons die natuur en onsself venietig nie. Hulle wil nie meer materiele vooruitgang najaag ten koste van innerlike geluk en vrede nie. Hulle is gefrustreerd omdat ons huidige Westerse leefwyse hulle dwing om net hul fisiese behoeftes te bevredig deur die uiterlike fisiese dinge na te jaag ten koste van hul innerlike sielsbehoefte om 'n betekenis op aarde te vervul.
Hierdie ontwaking noem ek 'n "spirituele ontwaking", omdat mense veral daarin geinteresseerd is om uit te vind wat die spiritueule aspek van hul lewe behels. Onbewustelik soek hulle eintlik daarna om hul spirituele behoefte te bevredig om die bedoeling van hul lewe te realiseer. Hulle het 'n onderliggende wete dat hulle oor spirituele kragte beskik wat hulle in staat kan stel om 'n ander leefwyse te volg, waarin hulle 'n betekenis kan vervul om ware geluk ken vrede te ervaar.

Soek jy ook 'n ander leefwyse?

Is jy ook ontevrede met jou leefwyse? Bied dit ook vir jou net spanning en frustrasies? Soek jy ook 'n nuwe suksesformule waarmee jy vir jou 'n leefwyse kan skep waarin jy geluk en vrede kan he? Indien wel, vorm jy deel van hierdie ontwaking, al is jy nie daarvan bewus nie. Jy soek eintlik daarna om jou spirituele behoeftes te bevredig. Bo alles soek jy daarna om die betekenis van jou lewe te vind. Ek gaan vir jou in hierdie kursus help om al jou spirituele behoeftes te bevredig, veral om die unieke betekenis van jou lewe te vervul, sodat jy 'n met geluk en vrede kan he.
My uitdaging aan jou is om vir 'n oomblik jou aandag van die uiterlike fisiese dinge af weg te draai en dit op jou innerlike self te vestig. Dan sal jy die ontdekking maak dat jou grootste behoefte eintlik daarin le om dit te ervaar dat jou lewe 'n spesifieke bedoeling op aarde het. Wanneer jy die bedoeling van jou lewe gevind het, sal jy nie meer belangstel in die uiterlike, fisiese, materiele dinge nie. Daardie uiterlike dinge wat jy vroeer as noodsaaklik beskou het om suksesvol te wees, sal hul waarde vir jou verloor en die lewe sal vir jou meer werd wees as om dit na te jaag. Dan beweeg jy weg van die strewe om alles te besit wat jou oe sien, en beskou jy dit nie meer as jou lewensmissie me. Jou wereldvisie sal verander, en jy sal begin om elke oomblik ten volle uit te leef. Jy sal nie meer materiele resultate najaag nie, jy sal eerder jou daaglikse lewensreis geniet om dit te doen waarvoor jy hier is. Jy sal die proses van jou lewensgang geniet en nie meer blindelings voortstrompel om jou geluk by die punt van die materiele reenboog te gaan soek me, net om uit te vind dat dit nie daar bestaan nie. Soos jy later sal sien, is die ironie dat jy met die handhawing van hierdie lewensbeskou:ng meer van die uiterlike fisiese dinge sal ontvang as wat vroeer die geval met jou was.
Wanneer jy erens heen wil reis, bepaal jy altyd eers op die padkaart die punt waar jy nou is. Van daardie punt at beplan jy jou roete. Jy moet vandag net eers weet dat jy, soos die meeste van ons by die punt staan waar jy deel vorm van die lewe in 'n "eksistensiele vakuum", soos dit deur die norme van die Westerse wereld vir jou bepaal word. Daar is egter 'n roete wat jou hieruit kan lei om 'n ander leefwyse te volg. More wys ek jou daarop dat jy oor die motiveringskrag beskik om hierdie roete te volg.

TOEPASSINGS

Se vir jouself: vandag raak ek daaroan bewus dat ek nie genoegsame lewensgeluk en vrede smaak nie omdat ek deel is van die lewe in die "eksistensiele vakuum". Om hieruit te kom, moet ek raak sien dat my lewe 'n spesifieke bedoeling en betekenis het en moet ek dit vind en begin uitlewe. Om daarby uit te kom, gaan ek die volgende doen:
1. Ek gaan my oopstel om in te sien dat materiele dinge op hul eie nie vir my ware geluk en vrede kan gee me, al besit ek ook alles wat my hart begeer. So sal ek insien dat my gespook om meer van hierdie dinge te besit die rede vir my spanning en frustrasies is.
2. Ek gaan die suksesformule in hierdie kursus ondersoek wat se: Eers wanneer ek my spirituele behoeftes bevredig, sal ek ware vrede en geluk vind. Dan sal ek ook al die ander aardse dinge kry wat ek nodig het.

BEVESTIGING:

My lewe het 'n spesifieke bedoeling op aarde. Ek is besig om uit te vind wat dit is.
"Daar is niks wat 'n mens so in staat kan stel om sy probleme te oorbrug en te oorleef, soos die wete dat hy 'n unieke taak het om te vervul nie." Victor E. Frankl
Dag 2
Webtuiste © Hennie J de Villiers