Liewe Leser,
In hierdie boek sal jy
sien wat die eintlike doel van jou lewe op aarde is, hoekom jy hier is.
Jy sal sien dat jy hier is om unieke take te verrig wat net jy kan doen,
take wat vir jou 'n voorspoedige lewe en vrede sal gee. Hierdie boek
handel oor die spirituele kragte waaroor jy beskik, wat vir jou in staat
stel om hierdie take te vind en af te handel. Ongelukkig is dit so dat
ons hierdie kragte in ons onderdruk en dit nie gebruik in ons
alledaagse lewe nie.
Die spirituele ontwaking
Wereldwyd
stel mense vandag weer belang om te weet wat hierdie spirituele kragte
nou eintlik is en hoekom hulle dit verloor het. Hulle wil dit weer vind
omdat hulle voel dat ons daarsonder ons hedendaagse chaotiese leefwyse
geskep het wat vol frustrasie, spanning, stres en depressiegevoelens is,
en geen sin en betekenis het nie. Daar word op verskillende wyses na
hierdie spirituele kragte gesoek.
Baie soek dit ouder gewoonte in die
godsdiens, sommige in die tradisionele godsdienste, ander in die nuwe
godsdienste wat nou oral begin kop uitsteek. Party soek dit in die
Oosterse godsdienste. Ander soek dit op allerlei ander maniere, en
betree selfs die bonatuurlike terrein van die spiritisme. Al die
wetenskappe, selfs die natuurwetenskappe, doen nou ook intense navorsing
hieroor om uit te vind wat die spirituele kragte van die mens eintlik
behels. Ook vir die man op straat het hierdie soeke so belangrik geword
dat boeke wat oor die spirituele kragte van die mens handel, nou beste
verkopers geword het.
Hierdie skielike belangstelling neem so vinnig
toe dat dit 'n "spirituele ontwaking" genoem kan word. Jy gaan in die
toekoms nog baie hoermee in aanraking kom en met verskeie teoriee en
opinies gekonfonteer word wat hieruit sal voortvloei, soos byvoorbeeld
die idees van die "New age" -beweging. Elkeen dink dat hy die antwoord
het oor wat ons spirituele kragte eintlik is.
Ek wil in hierdie boek
vir jou 'n perspektief op hierdie ontwaking gee, sodat jy nie deur al
die nuwe denkrigtings verwar sal word nie, maar dat jy eerder die
belangrikste nuwe insigte jou eie sal maak sodat jy ook jou spirituele
kragte sal ontdek.
Dit is veral vir die gelowige mens 'n uitdaging om
al die nuwe ontdekkings en insigte wat nou oral opduik in sy
godsdienstige raamwerk in te pas. Ek gaan in hierdie boek vir jou op
insigte vanuit die sielkunde wys, wat duidelike riglyne oor die
onderwerp aangee, wat vir my as gelowige aanvaarbaar is, en daarom glo
ek dat dit ook vir jou aanvaarbaar sal wees.
Die samestelling van die boek
Om
te sien hoe die boek saamgestel is, nooi ek jou uit om eers deur die
boek te blaai, wat'n goeie manier is om jou vooraf te orienteer oor die
inhoud van enige nuwe boek wat jy wil lees. Dit is altyd raadsaam om nie
sommer op bladsy een te begin lees nie, maar om eers'n globale oorsig
te kry waaroor dit gaan. Begin by die inhoudsopgawe wat vir jou sal
vertel watter onderwerpe behandel word. Blaai dan deur die boek om 'n
oorsigtelike indruk daarvan te kry en kyk wat ek as skrywer met die
boek beoog.
Jy sal onmiddellik agterkom dat die boek sielkundige
beskouinge bevat oor wat die mens se spirituele kragte behels en hoe hy
dit moet gebruik om die betekenis van sy lewe op aarde te verwesenlik,
ten einde gelukkiger te wees. Jy sal sien dat dit in 'n eenvoudige,
verstaanbare taal geskryf is en dat jy baie dinge prakties in jou
alledaagse lewe van toepassing kan maak.
Soos jy sal opmerk, is die
boek in dertig dele ingedeel. Die rede hiervoor is dat jy vir 'n maand
lank elke dag een deel kan deurlees en bestudeer, omdat die boek in sy
geheel 'n kursus vorm vir mense wat oor min tyd beskik of deur
omstandighede verhinder word om voltyds vir studie oor 'n onderwerp soos
hierdie in te skryf. Jy sal dit meer as een keer kan gebruik, omdat dit
riglyne vir jou lewe bied wat jy by herhaling sal wil lees. Onthou,
herhaling is die moeder van alle wysheid.
In die eerste afdeling van
die boek gaan ek jou leer wat jou spirutuele kragte is en hoe dit jou in
staat stel om die bedoeling van jou lewe te vind en dit te vervul. In
die tweede en derde afdeling sal jy leer hoe jou spirituele kragte jou
in staat stel om doeltreffende verhoudings met ander mense en met God,
asook met die materiele dinge te handhaaf.
Viktor Frankl se logo-terapie
Die
eksistensieel-sielkundige beskouinge van Viktor E. Frankl, oor wat die
betekenis van die menslike bestaan op aarde is en hoe die mens sy unieke
betekenis kan vervul, sal deurgaans as model in hierdie boek gebruik
word. Hy het baanbrekerswerk op hierdie terrein verrig om vir ons 'n
antwoord te gee op hierdie eeue oue vraag. Ek gaan vir jou leer wat sy
terapeutiese metode, naamlik "logo-terapie" behels, wat daarop ingestel
is om die mens te help om die funksie te vervul. Ek gaanjou ook leer wat
sy tegniek van "paradoksale intensie" behels en jy sal met verskillende
paradokse in aanraking kom. So sal jy met die paradoks gekonfronteer
word dat indien jy bo alles die bedoeling van jou lewe vervul, jy ook al
die materiele dinge sal kry wat jy benodig. Hierdie paradoks vleg soos
'n goue draad deur die boek.
Jou en my uitdaging
Dit is ons
almal se uitdaging, ook joune, om in die "spirituele ontwaking" wat tans
plaasvind, antwoorde te kry oor wat die mens se spirituele kragte
presies behels. Ek het self die uitdaging aanvaar om my opinie in
hierdie kursus daaroor te gee.
Hierdie kursus is die resultaat van 'n
versoek van vele van my kliente en oudstudente om 'n samevattende
kursus in boekvorm daar te stel wat vir hulle kan help om 'n meer
effektiewe, suksesvolle lewe te lei. Ek het vir baie jare 'n studie
gemaak om te weet wat 'n sukvolle lewe nou eintlik behels, en hoe die
mens gemotiveer kan word om dit te verkry. My bevinding was dat so 'n
lewe alleenlik daaruit bestaan om die bedoeling van jou lewe te vervul
en dat dit jou spirituele kragte is wat jou daartoe in staat stel.
Indienn
die leser van my boek my bevindinge kan bevestig, of selfs net sy denke
daarmee kan verryk deur dit te bevraagteken of verder daarop uit te
brei, sal dit 'n volgende stap wees in die ontwikkeling van kennis in
die soektog na wat die mens se spirituele kragte eintlik is.
Die kursus sal jou lewe verander
Ek
wil graag hierdie kursus ook tot jou beskikking stel en vir jou die
versekering gee dat dit nie alleen gebaseer is op my teoretiese
navorsingsresultate nie, maar ook op die praktiese ervaringe in my eie
lewe. Met die studie van hierdie onderwerp asook met die skryf en die
uitlewing daarvan, het my eie lewe drasties verander omdat ek nou die
wonderlike ervaring beleef dat ek my spirituele kragte kan bemeester
soos nog nooit tevore nie. Dit stel my in staat om spesifieke take te
verrig waardeur ek voel dat my lewe 'n besonderse betekenis het. Ek
ervaar dit nou ook weer, soos ek dit as kind belewe het, dat die lewe
self in al die aspekte daarvan vir my iets besonders beteken en dat dit
lekker is om te lewe. Ek kan ook nou 'n bydrae lewer om ander se lewens
betekenisvol te maak soos nog nooit tevore nie.
Uit my lewenslange
ondervindinge, eers as teoloog en daarna as dosent in die eksistensiele
sielkunde en later as voltydse praktiserende sielkundige en
opleidingskonsultant, van die probleme wat die mens van ons tyd ervaar,
het ek die dagstukke saamgestel. My doel is om op 'n
populer-wetenskaplike wyse vir jou hierin te onderrig, sodat jy dit kan
verstaan sonder dat ek iemand probeer beindruk met akadeniese
diepsinnighede.
Praktiese toepassings
Aan die einde van elke
deel kan jy die inhoud op jou eie lewe toepas. Daar is 'n praktiese
toepassing vir daardie spesifieke dag. As jy daarin slaag om hierdie
toepassings te maak, sal jy vinnig vorder om jou insig oor hierdie
onderwerp te verbreed en jou lewe te verryk.
Daar is ook 'n
bevestiging aan die einde van elke dagstuk. Die bedoeling daarvan is dat
jy elke dag 'n spesifieke aspek oor en oor vir jouself sal bevestig as
'n waarheid waarin jy glo. Die herhaling van 'n waarheid in jou gedagtes
het die effek dat jy dit na 'n tyd in jou gedagtes vestig en dat jy dan
daarop begin reageer en nie meer op ongewenste gedagtes, wat jou lewe
verwoes nie.
Ek wil 'n uitdaging aan jou stel om elke dag een dagstuk
aandagtig deur te lees. Ek stel hierdie uitdaging aan jou omdat
navorsing bewys het dat net ongeveer tien persent van mense wat 'n boek
koop, daarin slaag om dit deur te lees! Jou uitdaging is om hierdie boek
een honderd persent deur te lees, dag vir dag. Dink net hoe goed gaan
jy daaroor voel!
Hiermee kan jy ontwikkel om 'n ware effektiewe lewe te lei, soos ek en soveel ander van my kliente dit tans regkry.